Netwerk24 | Vrou van Alberton veg om by haar 2 minnaars in Engeland te gaan woon

’n Swemafrigter van Alberton aan die Oos-Rand is vasbeslote om haar visum te kry sodat sy haar by haar twee minnaars in Bournemouth, Engeland, kan gaan aansluit.

featured-image

’n Swemafrigter van Alberton aan die Oos-Rand is vasbeslote om haar visum te kry sodat sy haar by haar twee minnaars in Bournemouth, Engeland, kan gaan aansluit. Simone Carmen Johnson (28) se visum-aansoek is egter van die hand gewys omdat sy volgens die Britse visum-owerhede nie aan die toepaslike vereistes wat verhoudings betref, voldoen nie. Sy is deel van ’n poligame verhouding met twee ander persone, en dié twee is intussen getroud.

Haar twee minnaars het versoek om anoniem te bly. Johnson het op 5 Februarie vir ’n ongetroude-lewensmaat-visum (die UK Unmarried Partner Visa) aansoek gedoen. Sy het op 26 Junie ’n brief ontvang dat haar aansoek van die hand gewys is.



Die brief wys daarop dat Johnson nie aan die geskikte verhoudingsvereistes voldoen nie omdat haar twee minnaars in die eg verbind is en sy ongetroud is. Die brief dui ook op ’n “gebrek aan bewyse van ’n egte en voortgaande verhouding”. Simone Carmen Johnson Foto: Verskaf Johnson se twee minnaars het in 2020 na Brittanje verhuis, maar sy het hier agtergebly.

Die drie is volgens haar al vyf jaar in ’n verhouding. “Ek het besluit ek kan nie meer sonder my minnaars leef nie en het toe besluit om sak en pak na hulle te trek. Ek het net nie besef dit gaan so ’n stryd wees om daar te kom nie,” sê sy aan Netwerk24.

Sy word verteenwoordig deur Gwen Vermeulen, senior bestuurder van immigrasie en Britse nasionaliteit by Move Up UK Visa Solutions. Volgens Vermeulen het sy en Johnson ’n aansoek gebring dat die besluit oor die visum heroorweeg moet word, maar ook dit is van die hand gewys. ’n Appèlaansoek is toe Maandag gebring teen die Britse departement van binnelandse sake se besluit om die visum-aansoek af te keur.

Die aansoek om die besluit te heroorweeg, wat Netwerk24 onder oë gehad het, lui dat hoewel die brief verklaar dat die verhouding nie aan die Britse verhoudingsvereistes vir so ’n visum voldoen nie, daar versuim word om die wettigheid en geldigheid van poligame huwelike en verhoudings wat in Suid-Afrika erken word, te oorweeg. “Brittanje se wette erken die belang daarvan om wetlik erkende huwelike of verhoudings uit ander jurisdiksies te respekteer, selfs al verskil sulke huwelike of verhoudings van die konvensionele monogame raamwerk in Brittanje,” lui die appèl. Deur Simone se visum-aansoek te weier, word haar regte geskend, want sy en haar minnaars is mekaar se familie.

Gwen Vermeulen Luidens die aansoek laat die Britse owerhede ook na om die unieke dinamika van poligame verhoudings in ag te neem deur te sê dat daar “nie genoeg bewyse vir ’n egte en voortgaande verhouding” is nie. Vermeulen sê om haar kliënt se visum te weier op grond van die poligame aard van die verhouding, is diskriminerend teen nietradisionele gesinstrukture. “Ingevolge art.

8 van die Europese Konvensie oor Menseregte het elkeen die reg op respek vir sy private en gesinslewe. “Die persoon het ook die reg om nie van sy of haar familielede geskei te word nie. Deur Simone se visum-aansoek te weier, word haar regte geskend, want sy en haar minnaars is mekaar se familie.

Deur haar aansoek te weier, word hierdie familie-eenheid opgebreek.” Johnson se minnaars kuier tans by haar in Suid-Afrika omdat die visum-debakel ’n “emosionele tol” op hulle eis. “Dit is vir my moeilik om nie by my geliefdes te wees nie.

Ek sal met als binne my veg om by hulle te wees,” sê Johnson. • Die Britse ongetroude-lewensmaat-visum is vir ’n ongetroude lewensmaat van ’n Britse burger of gevestigde persoon daar om saam met hulle daar te kan woon..