Netwerk24 | Oop gat voor skool gevaarlik, meen ouer

’n Ouer vrees dat ’n gat voor ’n laerskool in Parow, wat Maandag ná ’n media-navraag deur die koerant aan die Stad Kaapstad herstel is, tot erge beserings kon lei.

featured-image

’n Ouer vrees dat ’n gat voor ’n laerskool in Parow, wat Maandag ná ’n media-navraag deur die koerant aan die Stad Kaapstad herstel is, tot erge beserings kon lei. Die deksel vir die gat, wat vir ’n brandkraan bedoel is, was glo ’n ruk lank reeds weg. Die gat was op ’n sypaadjie voor die Laerskool De Tyger in Glenboigstraat in Parow geleë.

Deon Oosthuizen, die ouer en adjunk-voorsitter van die Monte Vista Plattekloof-buurtwag, sê sy seun (7) het verlede Woensdag per ongeluk in die gat beland. Sy skoene, sokkies en broek was sopnat as gevolg daarvan. “Ek moes hom saam met my werk toe neem om vir hom droë klere te reël.



Ek moes ook met die skoolhoof praat oor die vermiste deksel en het aan hom verduidelik waarom my seun laat was en waarom hy nie die korrekte skoolskoene aangehad het nie.” Die nuwe deksel is Maandag geïnstalleer. Sy seun het die volgende dag gekla oor pyn in sy been.

“Ek het vir hom gesê om dit rustig te neem en as dit aanhou pyn, dat ek hom dokter toe sou neem.” Nog ’n seun het ook ’n dag daarna byna in die gat beland. Oosthuizen sê die skool het ’n groot paal in die gat gesteek, met gevaarlint daarom, om te verhoed dat enigiemand daarin beland.

Aangemeld Oosthuizen, wat die koerant verlede week genader het, meen dis belangrik dat die ouers bewus was van die gevaar. Hy, sowel as die laerskool se bestuur en die plaaslike wyksraadslid, het die kwessie by die Stad aangemeld. Dit is meer as ’n maand gelede aangemeld, en daar is eers Maandag werk gemaak daarvan.

Wiehan Smit, skoolhoof, sê die kwessie is op 22 Julie deur die skool aangemeld. Hy het Maandag wel bevestig dat die gat toegemaak is. “Ek het gou sommer self gaan kyk.

Ek vermoed dit is vandag (Maandag) iewers gedoen. Die paal lê nog in die agtergrond. Indien dit Vrydag of oor die naweek gedoen was, sou die opsigter die paal al binne die skoolterrein gesit het,” het hy gesê.

Oosthuizen het gesê die gat met die vermiste deksel is geleë op ’n besige sypaadjie wat honderde leerders en ouers daagliks gebruik. Hy sê hy was bekommerd oor die Stad se min belangstelling in die probleem en hy wou mense daarteen waarsku. Smit bevestig dat ’n ouer aangemeld het dat ’n leerder een oggend in die gat geval het, maar dat die leerder gelukkig niks oorgekom het nie.

Hy het aan TygerBurger die twee verwysingsnommers wat hulle van die Stad ontvang het, aangestuur. Dit is ook dieselfde dag by die raadslid aangemeld. “Op 23 Julie is dit ook deur die opsigter aangemeld.

Die skool het onmiddellik nadat dit aangemeld is eie inisiatief geneem en ‘n gemerkte paal daarin geplaas,” sê Smit. Roger Cannon, wyksraadslid, het die kwessie ook by die Stad aangemeld. Maandagoggend het hy genoem dat hy nog op terugvoering wag.

“Dit is ’n ernstige bekommernis, veral by die ingang van ’n skool, dat hier deksels verwyder word. Dit kan ernstige beserings aan voetgangers veroorsaak.” Die Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie van die Stad, het Maandagmiddag gesê die deksel is vervang.

“Die Stad is jammer vir die ongerief.”.